Bes Bekyk Met Enige Leser - Veldtog vir 'n Leser-Onafhanklike WWW

Nota: Hierdie blad is geskryf deur Cari D. Burstein om die idees agter die "Bes bekyk met enige leser" veldtog uiteen te sit. Indien jy hierheen verwys is deur 'n web-blad met die "Bes bekyk met enige leser" prentjie of teks, beteken dit dat die blad-outeur saamstem met die veldtog en bydra tot die poging om leser-afhanklike web-ontwerp te ontmoedig. Lees onder vir meer informasie hieroor, en om te sien of jy wil deelneem. [Met leser bedoel ek die medium waardeur die informasie geraadpleeg word; in Engels: browser.]

"Enigiemand wat goedsmoeds 'n 'hierdie blad is bes bekyk met Leser X'-plakker op 'n Web blad sit, verlang blykbaar na die slegte ou dae vóór die Web, toe jy baie min kans gehad het om 'n dokument te lees wat geskryf is op 'n ander rekenaar, 'n ander woordverwerker, of 'n ander netwerk."
  -- Tim Berners-Lee in Technology Review, Julie 1996

Indien jy hierdie blad lees, is jy heel moontlik nuuskierig oor die "Bes Bekyk Met Enige Leser"-knoppie daarop. Hier is my verduideliking. Ek is baie ongelukkig met die huidige neiging om web-areas [websites] spesifiek vir sekere lesers te ontwerp, en ander lesers te ignoreer. Dit is uiters irriterend vir my om 'n web-blad te besoek en te vind dat ek weggewys word tot tyd en wyl ek terugkom met Netscape of Internet Explorer. Dit is ook irriterend om web-areas te besoek waar jy wel binnegelaat word met enige leser, maar wat swaar steun op merkers [HTML tags] wat net ondersteun word in enkele gewilde lesers, of wat ondersteuning vir teksgebaseerde-lesers uitlos.

Ek sou graag hierdie neiging wou omkeer. Ek weet ek kan nie die web op my eie kan verander nie, maar elke bietjie help, en hierdie is my stem vir 'n platform-onafhanklike, leser-onafhanklike Wêreldwye Web. Ek vertoon die "Bes Bekyk Met Enige Leser"-knoppie om te benadruk dat ek my web-areas probeer skryf om leesbaar en funksioneel te wees in alle lesers. Sommige bladsye mag beter lyk in sekere lesers as in ander, maar hulle behoort almal leesbaar te wees deur enige leser. Ek probeer om leser-spesifieke merkers slegs te gebruik op gepaste wyses, en slegs wanneer daar 'n goeie rede vir hul gebruik bestaan; en in gevalle wanneer ek leser-afhanklike programmering gebruik het (soos prent-kaarte [image maps], rame [frames], Java, ens. Ek het my bes gedoen om alternatiewe daar te stel vir lesers wat hierdie merkers nie ondersteun nie. Laat my asseblief weet indien jy enigiets vind op my web-blaaie wat nie in jou leser werk nie (wees spesifiek omtrent die leser wat jy gebruik en wat dit was wat nie wou werk nie) en ek sal dit probeer regmaak.

Ek nooi enigiemand wat aan hierdie poging wil deelneem uit om die prentjie wat ek gemaak het van my web-blad te kopieer, en dit te gebruik in jou eie blaaie, of om een van die verskeie prentjies wat deur ander deelneemers aan die veldtog voorsien is, te gebruik. As jy lus is om nog prentjies vir die veldtog te ontwerp, voel vry! (en laat my weet of ek daardie prentjie beskikbaar kan stel vir ander om te gebruik). Ek is geen grafiese kunstenaar nie, en ek besef dat die een wat ek gemaak het nie juis skitter nie. Ek sou verkies dat jy die prentjie skakel [link] na hierdie blad, sodat mense weet waaroor dit alles gaan, of dat jy jou eie blad omtrent die veldtog opstel, maar as jy nie wil nie, is dit ook in orde.

Hier is 'n stukkie voorbeeld-HTML wat jy kan gebruik (met toepaslike veranderinge) as jy wil:

<p><a href="http://www.anybrowser.org/campaign/"> <img src="path-to-graphic/graphicname" width="graphic-width-in-pixels" height="graphic-height-in-pixels" alt="Bes bekyk met enige leser" /></a></P>

Nota: Jy moet een van die prentjies uit die Enige Leser Prentjies blad kies en dit kopieer na jou web-area, en die bogenoemde kode verander om by jou opstelling en die prentjie wat jy gekies het te pas.

Indien jy liewer geen prentjie op jou web-area wil vertoon nie, maar mense tog wil laat weet dat jou area ontwerp is om te werk met enige leser, kan jy dalk oorweeg om 'n teks-skakel iewers in jou area te hê, met bewoording soos "Bes Bekyk Met Enige Leser" of "Leesbaar Met Jou Gunsteling Leser" (of enigiets anders). Dit sou gaaf wees indien jy hierdie teks na hierdie blad kon skakel, of jou eie blad omtrent die veldtog kon opstel, sodat geïnteresseerde mense meer kan uitvind, en miskien hul eie areas ontwerp om deur almal leesbaar te wees.

Daar is twee hoofredes om die prentjie en/of die teks op jou blad te sit, indien jy web-areas ontwerp wat leesbaar is in enige leser:

  • Om jou besoekers te laat weet dat jy 'n poging aanwend om jou web-area vir almal bruikbaar te maak.
  • Om ander mense aan te moedig om hul web-areas te ontwerp om leesbaar te wees in alle lesers.

Ek het 'n Toeganklike Area Ontwerpsgids gemaak, waarin aspekte van web-blad toeganklikheid bespreek word, en riglyne gebied word om jou blad so toeganklik as moontlik te maak. Kyk ook na die ondervermelde areas vir bykomende informasie.

Indien jy web-areas raakloop wat ontoeganklik is, en hulle wil aanmoedig om hulle leesbaar te maak deur enige leser, is dit 'n goeie idee om 'n boodskap te stuur. Hier is 'n paar voorbeeld-briewe beskikbaar.

Ek hoop jy sal deelneem in die poging om leser-afhanklike web-ontwerp te ontmoedig.

Laat my weet indien jy enige vrae, opmerkings, of voorstelle het by campaign AT anybrowser DOT org.

Vertaal deur Jean Jordaan - rgo_anas@rgo.sun.ac.za